AGTERGROND
Suider-Afrika Melkkoöperasie Beperk

Read More >>
SAMELKO is ‘n primêre landbou-koöperasie, gestig en geregistreer op 1 Maart 1999 kragtens die Koöperasiewet (Wet 91 van 1981) soos gewysig.
 
Hoewel dit ‘n jong koöperasie is, vanjaar 10 jaar oud, gaan sy wortels vêr terug. SAMELKO het ontstaan uit die amalgamasie van die destydse Kaap Suiwelkoöperasie, wat reeds ‘n lang en veelbewoë geskiedenis gehad het, en Towerkop Suiwelkoöperasie, met ‘n jonger geskiedenis, maar ook sy eie kwota wedervaringe.  Die gemeenskaplike faktor in hulle bestaan was die oorname van hulle onderskeie melkkopers, te wete Bonnita Beherend Beperk en Towerkop Suiwel Beherend Beperk, in die middel van 1998 deur Parmalat Internasionaal.
 
HISTORIESE OORSIG:
Na die ineenstorting van die volstruisbedryf aan die begin van die 20ste eeu het ‘n aantal boere in die Bonnievale-omgewing bymekaar gekom om alternatiewe gebruik vir hulle gevestigde lusernlande en ander infrastruktuur te ondersoek. Na aanleiding hiervan is die Boesmansrivierse Koöperatiewe Kaasfabriek in 1926 gestig. Na ‘n beskeie begin met minder as 20 lede het hierdie koöperasie stadig dog bestendig gegroei. Aan die begin van die sewentigerjare was dit steeds ‘n klein onderneming wat slegs suiwelboere in die Bonnievale- en Swellendam-omgewing bedien het. Slegs Goudakaas is vervaardig en deur die sentrale bemarkingskoöperasie SACCA bemark.
 
Tydens die 1970’s is daar egter op ‘n versnelde uitbreidingsprogram besluit en is ook begin om Cheddarkaas te vervaardig. ‘n Weipoeierfabriek is ook opgerig. Lidmaatskap van die Koöperasie en melkinnames het hand oor hand toegeneem. Die vervanging van die ou 40 liter aluminiummelkkanne met verkoelingstenks op plase en platbakvragmotors met geïsoleerde melkvervoertenkers vroeg in die 1980’s het die afstande waaroor melk versamel kon word, ingrypend verander.
 
Intussen het daar reeds oor dekades heen ‘n neiging tot samesmelting onder kleiner koöperatiewe ondernemings in die landboubedryf voorgekom. Dit was ‘n logiese gevolg van die skaalvoordele vir die bedryf wat uit die samesmeltings voortgevloei het. Dit was veral baie belangrik in die geval van die suiwelbedryf met sy kapitaalintensiewe verwerkingsaanlegte.
 
As uitvloeisel van hierdie proses het die destydse Darling Koöperatiewe Suiwelfabriek en Zebraskop Koöperatiewe Kaasfabriek in 1986 met die Boesmansrivierse Koöperatiewe Kaasfabriek geamalgameer. Darling Koöperatiewe Suiwelfabriek was in Paardeneiland gesetel en het benewens ‘n botterfabriek ook melkvervoer vir ‘n aantal produsente wat melk vir die varsmelkmark in die Wes-Kaap geproduseer het, bedryf. Die Zebraskop Koöperatiewe Kaasfabriek was op Eendekuil naby Piketberg gesetel en het ‘n aantal produsente in die Piketberg-, Porterville- en Vredenburgomgewing se melk tot Cheddarkaas verwerk.
 
Kort hierna het Kaap Suiwelkoöperasie Van Riebeeck-melkerye gekoop, wat in Parow gesetel was en vars melk en varsmelkneweprodukte vervaardig het en in die Kaapse Skiereiland en omgewing bemark en versprei het.
 
Kaap Suiwelkoöperasie het intussen ook ‘n melkpoeieraanleg op Bonnievale gebou en was nou, buiten UHT-melk, oor die hele spektrum van suiwelprodukte bedrywig. Daar is in gesprek getree met United Dairy Cooperative, wat in Port Elizabeth gesetel was en vars melk en varsmelkneweprodukte in Port Elizabeth, Oos-Londen en Queenstown vervaardig en versprei het, asook ook ‘n botter- en melkpoeierfabriek in Port Elizabeth gehad het. Die belangrikste was dat hulle oor ‘n UHT-fabriek in Port Elizabeth en ‘n goed gevestigde handelsmerk beskik het.
 
Uit hierdie samesprekings het ‘n amalgamasie voortgevloei wat in 1989 by die registrateur van koöperasies geregistreer is, steeds onder die naam Kaap Suiwelkoöperasie.
 
Kaap Suiwel het nou oor ‘n volledige reeks suiwelprodukte beskik, met goed gevestigde en suksesvolle handelsmerke, byvoorbeeld Bonnita, Everfresh en Pure Joy. Verdere groei het gevolg, en wel tot die mate dat lede ook in die noordelike provinsies gewerf is. Daarna is ‘n UHT-fabriek aan die Rand gebou.
 
Soos te verstane is, het hierdie groei baie kapitaal geverg, veral in ‘n bedryf waar hoë higiëniese standaarde gehandhaaf moet word en toerusting feitlik uitsluitlik van vlekvrye staal gemaak word. Daar is gevolglik in 1992 besluit om die Koöperasie se verwerkings-, vervoer- en bemarkingsafdelings in ‘n maatskappy te omskep ten einde ook toegang tot kapitaal buite die landbousektor te bewerkstellig. Die Koöperasie het egter steeds die beherende aandele in die bedryfsmaatskappy Bonnita (Edms.) Bpk. behou.
 
Daar is mettertyd besluit om die waarde van die hele onderneming in belang van die Koöperasie se lede te ontsluit. Gevolglik is besluit om die bedryfsmaatskappy op die Johannesburgse Aandelebeurs te noteer, met die Premiergroep wat toe ‘n beherende aandeel bekom het.
 
Die Towerkop Koöperatiewe Kaasfabriek is in 1946 deur ‘n aantal suiwelprodusente in die Ladismith-omgewing gestig. Hulle het Goudakaas vervaardig en dit via SACCA bemark. Hulle het ook oor die jare bestendige groei gehandhaaf en in die laat 1980’s kleiner varsmelk- en gesteriliseerdemelkondernemings in George en Oudtshoorn oorgeneem. Hulle het ook omstreeks 1996 hulle vervaardigings- en bemarkingsbedrywighede in ‘n privaat maatskappy saamgevoeg, met die Koöperasie steeds as die beherende aandeelhouer.
 
Na probleme binne die Premiergroep het hulle besluit om hulle aandele in Bonnita in Augustus 1998 aan Parmalat Internasionaal te verkoop. Met hierdie transaksie is die noue skakeling tussen die Koöperasie en die maatskappy deur middel van die verteenwoordiging van Koöperasiedirekteure op die maatskappydireksie en administratiewe steun deur Bonnita aan die Koöperasie beëindig.
 
Intussen het Parmalat ook die aandele bekom wat Towerkop Suiwelkoöperasie in Towerkop (Edms.) Bpk., die bedryfsmaatskappy van die Koöperasie, gehou het. Net soos in die geval van Kaap Suiwelkoöperasie is Towerkop Koöperasie en sy lede sonder ondersteuning gelaat.
 
Gevolglik het die direksies van Kaap Suiwelkoöperasie en Towerkop Suiwelkoöperasie besluit om hierdie twee koöperasies te amalgameer en weer hulle eie kantoor, onafhanklik van Parmalat, te vestig.
 
Die belangrikste oorweging vir hierdie stap was om vir die produsente wat melk aan Parmalat lewer, ‘n forum te skep waar hulle gesamentlik met Parmalat kon onderhandel vir die beste langtermynvoordeel vir al die lede. Daar moes ook daarna gestreef word om ‘n gesonde en wedersyds voordelige verhouding tussen die Koöperasie en Parmalat te vestig. Terselfdertyd sou ‘n kantoor gevestig word waar bedryfsinligting versamel kon word en skakeling met ander produsente- en bedryfsorganisasies en owerheidsliggame op ‘n deurlopende basis en professionele vlak kon geskied.
 
SAMELKO se bedieningsgebied het nou oor die gebied vanaf Oos-Londen in die ooste tot Vredenburg in die weste gestrek in ‘n strook van ongeveer 1500 kilometer, al langs die kus. Met sy stigting was sy ledetal 970 en hulle gesamentlike jaarlikse melkproduksie was 533 miljoen liter.
 

Die Koöperasie word bestuur en beheer deur ‘n verteenwoordigende direksie wat uit die hele bedieningsgebied saamgestel word. Sy bedrywighede word gefinansier deur ‘n heffing van 0,2% van die waarde van lede se melklewering. SAMELKO se kantoor is in Stellenbosch gevestig en word beman deur ‘n bestuurder en ‘n persoonlike assistent.

NUUS
September 2009
Statuut

lees meer